Vir ‘n medalje

Jare gelede is my dogter gekies vir die aflosspan van die swem interskole. Ek onthou dat ek 2 ure moes ry na die gala waar sy minder as 10 sekondes sou swem. Ons het ook nie ‘n medalje huis toe geneem nie. Gelukkig het die dag oor baie meer as daardie 10 sekondes gegaan en was dit vir haar spesiaal om deel van die span te kon wees.

Met die Olimpiese spele dink ek terug aan daardie dag, al is dit eintlik heeltemal onvergelykbaar. Soveel ure van harde werk en opofferings vir ‘n oomblik se glorie. Stories van persoonlike uitdagings, drome en mislukkings om tot by hierdie byeenkoms te kon kom. Ek word hartseer wanneer mense kommentaar lewer oor die atleet wat uitsak, nie die finaal haal nie of nie met ‘n medalje huis toe kom nie. Ek sien die teleurstelling in sy oë wanneer hy met ‘n splitsekonde 4de is…so naby, tog so ver. Daar is blydskap wanneer iemand sy persoonlike beste gelewer het en trane van vreugde vir die een wie se drome waar geword het. Ek kyk na al die atlete en besef dat elkeen reeds die beste van die beste in hul eie land is.

In my stiltetyd stop ek by die saaier se storie. Die saad wat val op die pad, op die rots, tussen die onkruid en in die goeie grond. Ek wonder wat dit met die olimpiese spele te doen het. In die 100m finaal is daar ‘n vals begin en die atleet wat te vroeg weggespring het, moet terug stap. Sy drome aan’t skerwe. Met die tweede poging skiet die ander atlete weg. Een trek ‘n spier en maak nie klaar nie. Die res gee hul bestes maar dis uiteindelik die Italianer wat teen die verwagting die goue medalje wen. Die kommentators maak melding van die ontspanne manier waarop hy gehardloop het. My hart bloei vir ons eie kampioen wat so hard probeer het. Ek salueer hom nog steeds.

Dis egter op geestelike gebied waar hierdie wedloop my inspireer. Baie van ons het reeds weggespring en dis wonderlik as ons ent uit kan volhou en nie langs die pad uitval nie. Dis egter Jesus se waarskuwing oor die onkruid wat my laat regop sit. Hy beskryf dit as die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom wat ons so maklik kan vasdruk. Die gevolg is dat ons dan geen vrugte dra nie. Bekommernis is so eie aan die tyd waarin ons leef om nie te praat van ons daaglikse behoeftes om meer te hê nie. Ons almal hoop vir goeie grond en mik vir die hemelse medalje. Tog is dit nodig dat ons waaksaam moet lewe en raaksien wat ons vashou en keer dat ons vinniger kan hardloop.

My dogter swem lankal nie meer nie maar ek ry steeds agter die kinders aan. Soms is daar medaljes maar meestal nie. Dis die lewenslesse wat die regte medaljes is. By die Olimpiese Spele is daar net enkeles wat op die podium kan staan maar in die hemel is daar plek vir meer. Bekommernis en begeertes is onkruid wat ons gereeld uit ons lewens moet trek. Dan alleen kan ons lig hardloop en vrugte dra. Nodiger as ooit!

Published by ansavggmailcom

Ek hou daarvan om die mooi in die lewe te soek. Ek vind my inspirasie op die drafpad, in my stiltetyd, by my kinders en die gewone man op straat. Ons is hier om n verskil te maak...

2 thoughts on “Vir ‘n medalje

Leave a comment

Design a site like this with WordPress.com
Get started